Die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat Saterdag in die Pilanesberg klaargemaak het, het sy tol van deelnemers en hul renvoertuie geneem met minder as 40% van die 74 beginners in die Produksie- en Spesiale Voertuigkategorieë wat dit tot by die einde gemaak het.
Die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span het hul oorheersing in die kampioenskap voortgesit met die Nissan-Handelaars 400-wenners, Giniel de Villiers en Francois Jordaan wat hul Nissan Hardbody in die eerste algehele posisie in die Produksievoertuigkategorie tuisgebring het.
Die voormalige Produksievoertuigkampioene het 17 sekondes agter die Ford Racing-span, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer begin, maar hulle verbygegaan om met 10 min 25 sek te wen. Woolridge en Skjöldhammer het ‘n pap band opgedoen wat hulle kosbare tyd gekos het en Woolridge wat aan bewegingsiekte gelei het, het sake net vererger.
Die huidige voorlopers in die Produksievoertuigkampioenskap en wenners van die afgelope twee rondes van die kampioenskap, Hannes Grobler en Richard Leeke, het 54ste begin nadat die kragstuur van hul Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody gedurende Vrydag se voorren die gees gegee het. ‘n Begeesterde vertoning het die groot skare tydens elkeen van die drie 130 km-rondes vermaak en hulle het uiteindelik derde algeheel klaargemaak – 21 min 32 sek agter hul spanmaats.
Nissan het voorgegaan om die top posisies in te ryg met Alfie Cox en Ralph Pitchford (Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody) wat vierde algeheel klaargemaak het en Klas D vir die derde agtereenvolgende ren dié seisoen gewen het. Die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan Hardbody) het hul eerste ren dié seisoen voltooi en tweede in Klas D geëindig – 2 min 35 sek agter Cox en Pitchford.
Duncan Vos en Hennie ter Stege (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) het sesde algeheel geëindig en vierde in Klas T ná ‘n ren wat met probleme deurtrek was. Die voorruitveër het gebreek en hulle moes vier keer stop om die windskerm skoon te vee waarna hulle agt minute in die kuipe spandeer het om die probleem sonder sukses te herstel. Hulle het ook verby ‘n afdraai gejaag en hul bakkie se enjin het gevrek en hulle het gevind dat die aansluitermotor die gees gegee het. Die Ford Racing-span, Manfred Schröder en Jack Peckham het hulle soos goeie sportmanne gesleep en die Nissan weer aan die gang gekry net om later wéér tot hul redding te kom toe hulle verby nóg ‘n draai gejaag het. Schröder en Peckham moes as gevolg van ratkasprobleme die handdoek ingooi.
Die wenners van die Lichtenburg 200 en Noordwes-Provinsie-boere, Hein Moolman en Cecil Fincham het die dag vir Toyota gered deur sewende algeheel klaar te maak en Klas E in hul 4×4 Mega World-Toyota Hilux te wen.
Henri Zermatten en Bodo Schwegler (Mastercraft/Playstation-Pajero) het drie pap bande oorleef om agtste algeheelf en derde in Klas D te eindig met die man- en vrouspan, Neels en Zelda van der Walt negende algeheel en tweede in Klas E in die Nissan Hardbody. Die voorlopers in die Klas E-kampioenskap, Hug en Jaap de Bruyn (Toyota Hilux) het deur die Sun City 400 gesukkel, maar kon 10de klaarmaak en derde in Klas E. Hulle moes die ratkas na die voorren Vrydag vervang en 5 km in die ren het die oordraratkas die gees gegee waarna hulle die grootste gedeelte van die ren net in tweede rat kon jaag. Dit was ‘n ongelukkige ren vir die Castrol-Toyota-span met drie van sy vier spanne wat as gevolg van ratkasprobleme nie die einde kon haal nie. Klas D-voorlopers, Mark Cronje en Chris Birkin was voor Cox en Pitchford totdat hulle derde en vierde rat gedurende die tweede rondte verloor het en vyfde rat tydens die laaste rondte waarna hulle verplig was om die handdoek in te gooi. Die Klas E-deelnemers, Gavin Cronje en Robin Houghton was gemaklik voor, maar is uiteindelik uit toe ook hul ratkas die gees gegee het. Zane Pearce en Hennie Vosloo in die ander Klas E-Castrol-Toyota Hilux het dieselfde probleme ondervind.
Paolo Piazza-Musso en Rod Hering het twee pap bande tydens die eerste rondte opgedoen, ‘n skoon tweede rondte ondervind, maar toe agterwielaandrywing verloor asook eerste en tweede rat op die laaste rondte. Hulle het 11de algeheel en vierde in Klas D klaargemaak.
Die Spesiale Voertuigkategorie kon ‘n allemintige stryd afgegee het, maar dit het nie gerealiseer nie en pap bande het die deelnemers gekniehalter.
Die Klas S-wenners van die Toyota 1000-Woestynren, Mohammed Noble en Richard Hope (Abe’s Furniture-Raceco) was die vinnigste tydens die 40 km-voorren, maar hul ren vinnig tot ‘n einde gekom nadat hulle vier pap bande binne die eerste 65 km opgedoen het.
Die Nissan-Handelaars 400- en Toyota 1000-wenner, Atang Makgekgenene en Toyota 1000-wenner, Buks Carolin in die Total-Jimco, het die Spesiale Voertuigkategorie oortuigend gewen. Die paar het nie ‘n wiel verkeerd gesit nie en 11 min 24 sek voor Nick Harper en Andrew Chalupsky in die Klas A-BAT klaargemaak.
Derde algeheel was Shameer Variawa en Nadeem Dudhia in die Oven Fresh Biscuits-Porter wat een pap band en ‘n foutiewe koppelaarpedaal gehad het wat uiteindelik veroorsaak het dat die koppelaar begin gly het en hulle die voertuig versigtig tot by die einde moes kry.
Colin Matthews (WPP) was vierde algeheel en eerste in Klas B na ‘n renlange stryd met Marcus Taylor en Marc de Chalain (JRE) wat nie kon klaarmaak nie, en Giel Nel (Luk/ATE-Truggy) wat vyfde algeheel en tweede in Klas B was.
Die Toyota 1000-Klas B-wenners, Hamish en Alastair Stubbs (Fence Erect-Viper) het die oorblywende posisie op die Klas B-podium ingepalm met John Weir-Smith en Geoff Minnitt, wat 55ste in die Kopanong Hotel-Jimco begin het, sewende algeheel en vierde in Klas A om ook hul eerste ren van die seisoen te voltooi.
Roy Slabber, wat net een arm het, en sy seun, Milton, was uiters bestendig en het agtste algeheel klaargemaak terwyl hulle vyfde in Klas A was met die Piet Retief Engineering-Chevy was.
Die Klas F-oorwinning is deur André Botha en Beans Heydenrych in die Kopanong Hotel Superteam-Chevy ingepalm.