Die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam se aanslag op vier klasoorwinnings tydens die onlangse Sun City 400 het uiters teleurstellend geëindig toe drie van die vier voertuie as gevolg klein tegniese probleempies wat voorkom kon word, verplig was om die handdoek in te gooi.
Die Klas S-kampioenskapleier, Nick Goslar en navigator Warren Bowie was weer eens die sterre en die enigste span wat die ren kon voltooi en alhoewel hulle tweede geëindig het, was hulle net 16 sekondes agter hul aartsmededingers, Mohammed Noor en Mohammed Moultsen in die Supa Veg-Raceco, en ten spyte daarvan daarvan dat hulle 80 % van die ren sonder ‘n kragstuur gejaag het.
Die wenners van die Toyota 1000-Woestynren, John Weir-Smith en sy plaasvervanger-navigator, Peter Karam, het ‘n rowwe tyd gedurende die 40 km-voorren beleef toe hulle eers by ‘n ingewikkelde haarnaalddraai vasgedraai het en daarna moes onttrek toe die linkervoorste spil en remknyper afgeskeur het. Die Superteam se tegniese span het lang ure spandeer om die beskadigde onderdele te vervang en die span kon die hoofren begin, maar in die 47ste plek. Weir-Smith het soos ‘n besetene gejaag en tot in die tweede plek in sy klas opbeweeg toe die stuurvoet van die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Jimco afgebreek het.
Gareth Wark het die hoofren in ‘n goeie posisie begin en het later die Klas B-voortou geneem, maar was verplig om op te gee toe ‘n veer op die voorste veringstelsel van die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Mighty Mag gebreek het.
Die Superteam se mede-stigter, Andre Botha en Beans Heydenrych het ‘n skoon lopie gehad en was gerieflik voor die Klas F-kampioenskapvoorlopers, Jaap Zeeman en Johannes Barwise, maar toe het die ongeluk toegeslaan. ‘n Waterpyp op die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Chev se V8-enjin het losgekom en hulle het onttrek nadat hulle vermoed het dat die hoofpakstuk die gees gegee het.
“Daar is nie woorde om ons teleurstelling te beskryf nie,” het Andre Botha gesê. “Die Superteam was vol selfvertroue voor die Sun City 400 en ek glo dat ons doel om vier klasoorwinnings te behaal, was bereikbaar, maar swak voorbereiding en die rengode was nie aan ons kant nie.”
“Nou is dit ‘n kwessie van konsolidasie en Nick Goslar wat sy Klas S-kampioenskapsvoortou gedurende die volgende twee byeenkomste moet behou waarna ‘n heel nuwe strategie en struktuur vir die 2004-seisoen geïmplimenteer sal word.”
Die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam sal al vier voertuie vir die Toyota-Handelaars 400, die sewende ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word en op 24 en 25 Oktober in die Lydenburg-omgewing plaasvind, inskryf.