Dit was ‘n kwessie van terug skool toe vir Span Castrol-Toyota se veldrennavigators, Robin Houghton en Chris Birkin toe hulle onlangs Motorsport Suid-Afrika se Hoofbaanbeampte (Clerk of the Course)-eksamen afgelê het.
Dié paar en Serge Damseaux se navigator, Robert Paisley, het dié strawwe eksamen van twee ure met vlieënde vaandels geslaag.
Hierdie strategiese inisiatief van Span Castrol-Toyota was daarop gemik om te verseker dat die navigators op hoogte sal bly met alle aspekte van byeenkoms-organisering en die rol van die Hoofbaanbeampte.
“Ons glo dat dit van kardinale belang is dat die navigators wat in ons diens is, bedrewe sal wees in alle aspekte van byeenkoms-organisering en -bestuur,” het Toyota se Motorsportbestuurder, Wammy Haddad, gesê. “Die subtiele nuanses in die regulasies van ’n byeenkoms en ander amptelike dokumentasie is soms die oorsaak dat spanne die feite verkeerd interpreteer en dit kan duur gevolge hê.”
“Deur navigators te hê wat oor volle Hoofbaanbeampte-akkreditasie beskik, is beslis ’n voordeel en ’n manier om ons groot belegging in motorsport te beskerm.”
Die vyfmalige SA Veldrennavigatorkampioen, Robin Houghton, is baie ervare in alle aspekte van byeenkomste se dokumentasie, maar het tydens die voorbereiding vir die eksamen gevind dat meer aandag aan kleiner detail gegee moet word om die subtiele nuanses ten volle te verstaan.
“Ons het die eksamen geslaag en sal daarby baat kan vind deurdat ons nou oor die nodige selfvertoue beskik om besluite te neem terwyl ons met ’n ren besig is,” het Robin Houghton gesê. “Die nuwe ondervinding wat ons opgedoen het, sal aan ons die administratiewe voorsprong oor ons mededingers gee en ons sal vinnig en vol vertroue op enige situasie wat tydens ’n byeenkoms mag opduik, kan reageer.”
Span Castrol-Toyota se navigators was een van die eerste groepe wat die nuwe eksamen afgelê het en het nie ’n idee gehad wat om te verwag nie.
“Die vorige eksamenvraestelle is vir jare gebruik en was heelwat makliker indien dit met die uiters moeilike nuwe vraestelle vergelyk word,” het Chris Birkin gesê. “Daar is van ons verwag om ’n besluit te maak gebaseer op ’n voorgestelde situasie en dan moes ons die besluit deur middel van die toepaslike Algemene Kompetisiereël of Vaste Aanvullende Regulasies staaf.”
“Om die regte besluit te maak, was redelik maklik, maar om die toepaslike regulasie binne die toegelate tyd te identifiseer, was heelwat moeiliker.”
Span Castrol-Toyota se navigators sal hul nuwe vaardighede goed tydens vanjaar se Absa-Veldrenkampioenskap en die Sasol-Tydrenkampioenskap kan toepas.