Die komende Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, bied aan die Kopanong Hotel Superteam met sy span van vyf voertuie ‘n reuse logistieke uitdaging wat weke se voorafbeplanning insluit om te verseker dat al die reëlings ‘n sukses sal wees.

Behalwe dat al vyf die renmotors daarheen vervoer moet word, is daar ook die kwessie om klere, vervoer, akkommodasie en kos aan dosyne personeellede, jaers en navigators vanaf Donderdag, 10 Junie tot Maandag 14 Junie, te voorsien.

Waar dit ookal moontlik is, verkies die Kopanong Hotel Superteam om te kamp eerder as om in hotelle te bly en dit beteken dat ‘n groep personeel reeds vooruit gestuur word om die kamp, wat net as luuks beskryf kan word, op te slaan. ‘n Kollosale opblaasstruktuur is die sentrale punt van die kamp en word gebruik vir etes terwyl ‘n Bedouin-styl tent as ‘n klein sitkamertjie gebruik word waar hul eie musikant, Dewald, in die aande die spanne en gaste vermaak.

Om die kontingent van 45 van kos te voorsien, is ‘n reuse taak en word deur twee kokke, twee kroegmanne en twee helpers van die Kopanong Hotel en Konferensiesentrum behartig. Die ontbytspyskaart bestaan uit ‘n verskeideheid van keuses wat wissel van vrugte, ontbytpap en muffins tot ‘n volledige Engelse ontbyt terwyl middagete ‘n piekniekete is met spanlede wat van pakkies voorsien word bestaande uit ‘n verskeideheid voedsame eetgoed. Aandete word afgewissel, maar bestaan gewoonlik uit ‘n braai een aand met pasta en kerries wat ook gewilde items op die spyskaart is.

Die slaapgeriewe bestaan uit 25 tente waarvan vyf met twee enkelbeddens, konvensionele beddegoed soos duvets, asook bedkassies en lampies vir die jaers en navigators toegerus is. Die oorblywende tente word toegerus met kampbeddens en slaapsakke en vir al die dames is daar ‘n afsonderlike aantrektent waar hulle hul grimering en hare kan doen terwyl daar ook ‘n toilet- en ‘n stortsleepwa is.

Maar die grootste enkele logistieke taak – of nagmerrie – is die vervoer van die renvoertuie en toerusting. Twee voertuie word saam met brandstof, bande, onderdele, toerusting en gereedskap, in ‘n toe sleepwa wat 14 meter lank is, vervoer terwyl die ander drie voertuie op afonderlike sleepwaens na en van die ren vervoer word. In totaal word daar van 12 voertuie gebruik gemaak en dit wissel van ‘n Mercedes-Benz-perd tot Mercedes-Benz Sprinters en ‘n verskeidenheid van 4x4-bakkies en sportnutsvoertuie.

“Om ‘n projek van dié omvang aan te pak, is beslis nie vir sissies nie,” het André Botha van die Kopanong Hotel Superteam gesê. “Daar is egter steeds heelwat meer voordele om te kamp en behalwe dat ons baie op hotelakkommodasie spaar, het dit ook ‘n positiewe uitwerking deur die span onder een dak te hou en só ‘n goeie spangees te bou.”

“Behalwe vir die logistieke uitdaging wat ons op elke byeenkoms moet aanpak, is daar ook die kompetisie-aspek en ons het nie ‘n goeie begin tot vanjaar se seisoen gehad nie. Slegs een voertuig, Nic Goslar se Kopanong Hotel Superteam-Raceco, het tydens die Nissan-Handelaars 400 klaargemaak en Klas S gewen terwyl die res weens ‘n verskeideheid probleme die handdoek moes ingooi.”

Die Kopanong Hotel Superteam hoop dat hul geluk tydens die Toyota 1000-Woestynren, wat vanaf 11 tot 13 Juniein Botswana plaasvind, gaan draai en hulle sal sterk op laasjaar se wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt vertrou om ‘n herhaling van dié oorwinning in die Klas A-Jimco te behaal.

Met verteenwoordiging in Klas A, D, F en S is dit nie onmoontlik dat die Kopanong Hotel Superteam-spanne op die podium in elk van dié klasse kan opeindig nie.

Tydens die onlangse Nissan-Sugarbelt 400 het die nuwelinge, Chris Fick en Rob Knight ‘n goeie debuutren in die Klas D-Land Rover beleef, maar hulle het sonder brandstof gaan staan terwyl André Botha en Beans Heydenrych in Klas F voorgeloop het, maar hulle het hul kanse verspeel toe hulle die Chevy gerol het. Nic Goslar en Warren Bowie was met die Raceco voor in Klas S, maar het die afsnytyd met sewe minute gemis terwyl John Weir-Smith en Geoff Minnitt met brandstofpompprobleme onttrek het.