Die Toyota 1000-Woestynren wat onlangs in Botswana gehou is, kan as ‘n ren beskryf word waar die helde geval het en dit het ‘n groot skommeling in die puntestand van die Absa-Veldrenkampioenskap in al die Produksie- en Spesiale Voertuigklasse veroorsaak.
Slegs 11 van die 38 Produksievoertuiginskrywings en sewe van die 42 Spesiale Voertuigspanne kon daarin slaag om die einde te haal ná ‘n ren wat as die taaiste in die geskiedenis van dié byeenkoms beskryf word deur deelnemers soos die viermalige wenner, Hannes Grobler; die driemalige wenners, Buks Carolin en Neil Woolridge en die sewemalige wenner, Richard Leeke.
In die Produksievoertuigkategori was daar geen verandering aan die bopunt van die algehele punteleer nie en Grobler en Leeke, wat hul derde agtereenvolgende oorwinning in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody (Klas T) behaal het, is steeds voor met 122 punte.
Die feit dat Giniel de Villiers nie deelgeneem het nie as gevolg van ‘n bergfietsbesering en dat Francois Jordaan in die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody wat deur Glyn Hall bestuur is, nie klaargemaak het nie, het die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, wat tweede algeheel in die Ford Racing Ranger klaargemaak het, tot in die tweede plek opgeskuif het – 25 punte agter Grobler en Leeke.
Die voormalige Klas E-kampioene en huidige Klas E-voorlopers, Hugo en Jaap de Bruyn in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i het tot die derde posisie algeheel opgeskuif ná hul derde agtereenvolgende klasoorwinning en hulle is slegs vyf punte agter die Ford-span. Dié besigheidsmanne van Vryburg het vyfde algeheel klaargemaak en amper 16 minute voor hul naaste teëstanders, Zane Pearce en Hennie Vosloo in die Castrol-Toyota Hilux KZ-TE en is nou 13de in die algehele kampioenskap en vierde in Klas E.
Die huidige Klas E-kampioene, Mark Cronje en Chris Birkin, het vierde algeheel in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i klaargemaak en is vierde in die algehele Produksievoertuigkampioenskap asook die Klas D-voorlopers ten spyte daarvan dat hulle nog nie ‘n enkele klasoorwinning dié seisoen kon behaal nie. Hulle is ‘n skrale agt punte voor Alfie Cox en Ralph Pitchford (Arnold Chatz Cars-Nissan Hardbody) wat hul tweede agtereenvolgende Klas D-oorwinning behaal het.
Giniel de Villiers en Francois Jordaan sal ‘n bietjie moet inhaal – 53 punte om presies te wees – as hulle hoop om hul spanmaats, Grobler en Leeke, in die ren om die kampioenskap verby te gaan, maar Cox en Pitchford, wat net drie punte agter hulle in die sesde posisie algeheel is, is ‘n groot bedreiging nadat hulle ook ses posisies gewen het as gevolg van twee Klas D-oorwinnings.
Henri Zermatten en Bodo Schwegler (Mastercraft/Playstation Pajero) het voordeel uit die bykomende 18 kW wat hulle gewen het deur ‘n verstopte brandstoffilter te vervang, getrek en sewende algeheel tydens die Toyota 1000 klaargemaak en dit het hulle twee posisies op die algehele punteleer laat opskuif en tot die derde Klas D-posisie.
Ford Racing se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, is agtste nadat hulle elke ren in hul debuutjaar voltooi het. Hulle het twee plekke op die algehele kampioenskapspunteleer opgeskuif nadat hulle die Toyota 1000 in die negende algehele posisie voltooi het en dit het hulle tot in die tweede plek in Klas E laat opskuif.
Die man- en vrou-span, Neels en Zelda van der Walt, het drie plekke op die algehele punteleer teruggeval nadat hulle nie dié ren in hul Klas E-Nissan Hardbody kon voltooi nie en hulle is nou derde in Klas E, ses punte agter die Ford Racing-ontwikkelingspan.
Produksievoertuigkampioenskap:
1. Hannes Grobler / Richard Leeke (Nissan / Klas-T) 122
2. Neil Woolridge / Ken Skjoldhammer (Ford / Klas-T) 97
3. Hugo de Bruyn / Jaap de Bruyn (Toyota / Klas-E) 92
4. Mark Cronje / Chris Birkin (Toyota / Klas-D) 74
5. Giniel de Villiers / Francois Jordaan (Nissan – Klas-T) 69
6. Alfie Cox / Ralph Pitchford (Nissan / Klas-D) 66
7. Henri Zermatten / Bodo Schwegler (Mitsubishi – Klas-D) 58
8. Baphumze Rubuluza / Khulile Vakalisa (Ford – Klas-E) 55
9. Neels vd Walt / Zelda vd Walt (Nissan – Klas-E) 49
10. Duncan Vos / Hennie ter Stege (Nissan – Klas-T) 42
Daar heers ‘n wipplankstryd tussen die voorloper in die Spesiale Voertuig-jaerskampioenskapsvoorloper, Atang Makgekgenene in die Total-Jimco en Mark Corbett in die Century Property Developments-BAT en slegs 10 punte skei dié twee jaers.
Makgekgenene en die gestorwe Mike Stangl het die Nissan-Handelaars 400 in die Wes-Kaap gewen en hy en sy nuwe navigator, Buks Carolin, het die Toyota 1000-Woestynren gewen terwyl Corbett en sy navigator, Gavin Kelsey tweede in die Wes-Kaap klaargemaak het en die Nissan-Sugarbelt 400 in KwaZulu-Natal gewen het. Kelsey het nie in Botswana deelgeneem nie as gevolg van ‘n gebreekte sleutelbeen en Corbett en sy plaasvervanger-navigator, Juan Möhr kon nie die Toyota 1000 voltooi nie.
Kelsey is steeds voor in die navigatorskampioenskap en is tien punte voor Mike Brown wat die Praesidium-BAT met die derde geplaasde jaer, Clint Gibson, deel. Die KwaZulu-Natal-span het tweede algeheel tydens die Toyota 1000 geëindig en kon nog nie ‘n ren algeheel wen nie.
Die veteraan, Nick Harper en Andrew Chalupsky in die BAT Racing-Audi het derde algeheel in Botswana klaargemaak om nog 35 punte by die 35 te voeg wat hulle tydens die Nissan-Sugarbelt 400 bymekaargemaak het en dit het hulle vyf posisies op die kampioenskapsleer laat opskuif tot in die vierde plek in die jaerskampioenskap en derde in die navigatorskampioenskap onderskeidelik.
Die voorlopers in Klas B, Adri Roets en Deon de Kock (Global DAD-WPP) het ‘n 11 punte-voorsprong in die Klas B-kampioenskap, maar het van die tweede posisie teruggesak tot die vierde plek op die algehele kampioenskapspunteleer wat hulle met Harper en Chalupsky deel nadat hulle nie die Toyota 1000 kon voltooi nie.
Die voormalige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain in die JRE is net 11 punte agter Roets en De Kock en is goed geposisioneer om die voortou tydens die komende Sun City 400 te neem.
Daar was geen verandering tussen die voorlopers in die Klas S-kampioenskap en die Botswana-gebaseerde Mohammed Noble en Richard Hope in die Abe’s Furniture-Raceco is tien punte voor die huidige Klas S-jaerskampioen, Nic Goslar en Warren Bowie in die Kopanong Hotel Superteam-Jimco.
Spesiale Voertuigkampioenskap – Jaers
1. Atang Makgekgenene (Jimco – Klas-A) 90
2. Mark Corbett (BAT – Klas-A) 80
3. Clint Gibson ( BAT – Klas-A) 70
4. Nick Harper (BAT – Klas-A) 53
4. Adri Roets (WPP – Klas-B) 53
Spesiale Voertuigkampieonskap – Navigators:
1. Gavin Kelsey (BAT – Klas-A) 80
2. Mike Brown (BAT – Klas-A) 70
3. Andrew Chalupsky (BAT – Klas-A) 53
3. Deon de Kock (WPP – Klas-B) 53
5. Buks Carolin (Jimco – Klas-A) 45
Die Sun City 400, die vierde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap wat op 23 en 24 Julie plaasvind, sal deurslaggewend vir heelwat van dié spanne wees wat nog nie hul kampioenskapsstryd aan die gang kon kry nie en onder hulle is John Weir-Smith en Geoff Minnitt (Kopanong Hotel Superteam-Jimco), die huidige Spesiale Voertuigjaerskampioen, Giel Nel, wat heel ongewoon nie die laaste twee byeenkomste in die Luk/Ate-Truggy kon voltooi nie; die huidige Klas D-kampioene, Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan Hardbody) wat nog nie ‘n ren vanjaar kon voltooi nie; Shameer Variawa en Nadeem Dudhia (Oven Fresh Biscuits-Porter) en André Botha en Beans Heydenrych in die Klas-F Kopanong Hotel Superteam-Chevy.