Daar sal rede wees om van 3-5 Junie tydens die Toyota 1000-Woestynren, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap in Botswana, fees te vier aangesien dit dié ren se 25ste verjaardag is.
Die ren het sy ontstaan in 1975 gehad en het tot in 1979 as die Total Trans-Kalahari-Padren bekend gestaan. In 1980 het IGI die ren gesteun en dit het toe as die Toyota 1000-Woestynren bekend geword. Van 1981 tot 1990 het die ren in die Vryburg-omgewing plaasgevind voordat dit van 1991 in Botswana aangebied is.
Toyota Suid-Afrika het sy eerste tree tot die plaaslike voertuigmark in 1961 geneem met die verskaffing van ligte handelsvoertuie en alhoewel dié maatskappy nou oor ‘n omvattende reeks passasiersmotors sowel as medium- en swaarvoertuie beskik, bly die ligte handelsvoertuigmark die ruggraat van sy voortdurende sukses en aan die einde van 2004, was dit vir 25 agtereenvolgende jare die algehele markleier.
Om die Hilux- en Land Cruiser-bakkies in die veeleisende wêreld van veldrenne te bewys, was natuurlik vir Toyota en die maatskappy het sy ondersteuning vir dié motorsportformule voortgesit van die vroeë dae waar met “plaasbakkies” deelgeneem is tot die meer gespesialiseerde hedendaagse produksievoertuie.
Van 1981 tot 1991 het die reëls net voorsiening daarvoor gemaak dat algehele wenners punte kon aanteken, maar in 1992 het die Veldrenkommissie van daardie jare besluit om die kampioenskap in die Spesiale- en Produksievoertuigkategorieë te verdeel en die algehele wenners van elke kategorie is erken.
Toyota het die Produksievoertuigkategorie van 1988 tot 1999 oorheers met Apie Reyneke, Kassie Coetzee, Philip Malan en André Kock wat dit nege keer gewen het. Kock en Koos Coetzee het met ’n Toyota Land Cruiser in 1988 gewen met Malan en Richard Leeke, wat die ren sewe keer as ’n navigator gewen het, wat in 1989 met ’n Toyota Hilux geseëvier het. Kassie Coetzee en Leeke het in 1992 en 1993 met ’n Toyota Hilux gewen.
Toe was dit die beurt van Apie Reyneke en Lucas Dreyer, wat in 1987 met ’n Nissan Safari gewen het, om in 1994 met ’n Toyota Land Cruiser te wen. Reyneke en Robin Houghton het saamgespan en in 1995, 1997, 1998 en 1999 met ’n Toyota Land Cruiser gewen.
Ander vernaamde Produksievoertuigkategoriewenners sluit Hannes Grobler en Piet Swanepoel in wat in 1986 met ’n Nissan Safari gewen het. Grobler en Richard Leeke, wat die wen-navigator by sewe geleenthede was, het in 2002, 2003 en 2004 met ’n Nissan Hardbody gewen.
Neil Woolridge het die Toyota 1000-Woestynren by drie geleenthede gewen. In 1996 het hy en Paul Vermaak met ’n Nissan Sani gewen en daarna het twee oorwinnings saam met Kenny Skjöldhammer gevolg – in 2000 met ’n Mitsubishi Pajero en in 2001 met ’n Ford Ranger.
“Toyota was ‘n groot ondersteuner van die 1991-skuif terug na Botswana aangesien dit ‘n belangrike mark vir ons maatskappy is en meer as 40% van kleinhandelverkope in dié land, behoort aan ons. Eintlik beklemtoon ons Botswana-handelaars dié feit deur te sê ‘Botswana is Toyota-land’”, was Dr Johan van Zyl, President en Hoof-Uitvoerende Beampte van Toyota Suid-Afrika, se kommentaar. “Die belangrikheid van bewusmaking van ons handelsmerk in dié mark en in Suidelike Afrika in die algemeen, is een van die redes waarom ons voortgegaan het om die Toyota 1000-Woestynren vir 25 jaar te ondersteun. Dit is interessant om daarop te let dat dié byeenkoms net so oud is as wat ons die markleiers is.”
Die 25ste Toyota 1000-Woestynren begin Vrydag, 3 Junie om 13h00 met ’n 40 km-voorren en word gevolg deur ’n 480 km-gedeelte wat Saterdag om 07h30 by Game City in Gaborone begin en by die dienspunt by Mantshwabisi draai voordat dit weer by Game City eindig. Oorlewendes van die eerste dag se ren, sal Sondag om 7:30 weer by Game City begin en die roete in die teenoorgestelde rigting aanpak voordat hulle teen ongeveer 14h00 by Game City eindig.