Toyota se fabrieksgesteunde veldrenspanne is gereed en oorgehaal vir die vyfde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, die Lesotho Sun 400 wat op 20 en 21 Augustus vanaf Maseru in Lesotho plaasvind.
Alhoewel drie van die spanne nie die einde tydens die onlangse Sun City 400 kon haal nie, is daar steeds hoop op twee van die klaskampioenskappe terwyl ‘n Toyota Hilux-span steeds die Klas E-voorlopers is.
Hugo en Jaap de Bruyn in die privaat-Toyota Hilux 2,7i het hul voorloperposisie in Klas E behou alhoewel hulle vir die eerste keer vanjaar nie dié klas tydens die laaste ren kon wen nie, maar die derde posisie op die podium gehaal het. Hulle bekleë ook die vierde posisie op die algehele punteleer in die Produksievoertuigkampioenskap.
Mark Cronje en Chris Birkin (Castrol-Toyota Hilux 2,7i) kon vir die eerste keer dié seisoen nie ‘n ren voltooi nie en dit het hulle van die voorloper- tot die derde posisie in Klas D laat terugsak. Ratkasprobleme het hulle, soos die ander spanne, tydens die Sun City 400 gekniehalter.
Die Castrol-Toyota Hilux-span wat wel die laaste veldren kon voltooi, Paulo Piazza-Musso en Rod Hering, het waardevolle punte ingesamel en is tans vierde in Klas D en net buite die top tien op die algehele punteleer.
Cronje jnr, Gavin, saam met die veelvuldige navigatorkampioen, Robin Houghton, kon nog net die Toyota 1000-Woestynren vanjaar voltooi, maar doen met elke ren meer ondervinding in hul Klas E-Castrol-Toyota Hilux 2,7i op.
Zane Pearce en Hennie Vosloo in die Castrol-Hilux KZ-TE is net voor Cronje/Houghton in die Klas E-kampioenskap.
Ander privaatspanne wat ook dopgehou kan word, is Hein Moolman en Cecil Fincham wat Klas E tydens die Sun City 400 gewen het terwyl Cliff en sy seun, Louis Weichelt in die N1 4×4-Hilux ook hul eerste punte met dié nuwe voertuig ingepalm het.
Volgens Toyota Motorsport se bestuurder, Whammy Haddad, het hulle die probleem gevind wat vir die ratkasprobleme verantwoordelik was wat die spanne tydens die laaste ren gekortwiek het. Hy is ook vol vertroue dat dié probleem voor die volgende ren iets van die verlede sal wees sodat die Toyota-spanne die Lesotho Sun 400 wat in die bergagtige Lesotho plaasvind, kan takel. Dit sal vir bykans al die spanlede ‘n eerste ondervinding wees met net Houghton en Birkin wat al ‘n paar Dak van Afrika-renne agter hulle name kan skryf.