Nissan Motorsport se veldrenkampioene Hannes Grobler en Richard Leeke het die 2004-Suid-Afrikaanse ABSA-veldrenkampioenskap – met nog twee rondes oor voor die einde van die seisoen – reeds in sig en is daarop uit om hul vierde en Nissan se sewende oorwinning vir die jaar in hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody-bakkie op te stel.
Grobler (die jaerskampioen in 1986 en 2003) en Leeke (die navigatorskampioen in 1984 en 2003) is weer die gunsteling-span vir die sewende ronde van die agtren-kampioenskap, die Toyota Handelaars 400-veldren in Mpumalanga die naweek van 22 en 23 Oktober.
’n Oorwinning deur dié veteraan-veldrenspan of hul spanmaats, die oudkampioene Giniel de Villiers en Francois Jordaan in hul Trots Suid-Afrikaans-Nissan Hardbody, sal die Nissan-span van Midrand se onoorwonne rekord in vanjaar se kampioenskap op sewe agtereenvolgende oorwinnings te staan bring. Nissan het 24 van die laaste 30 byeenkomste sedert die begin van die 2001-seisoen gewen.
Maar anders as wat dit verlede jaar die geval was – toe Grobler en Leeke ’n voorsprong van 18 punte in die kampioenskap vóór die Mpumalanga-byeenkoms gehad het en dié ren gewen het – is hulle vanjaar net agt punte voor hul spanmaats De Villiers en Jordaan nadat hulle 187 punte vir drie oorwinnings en nog twee top-drie-posisies bymekaar gemaak het.
De Villiers en Jordaan, wat die kampioenskap in 2001 in Nissan se debuutjaar in veldrenne gewen het, het altesaam 179 punte ingesamel vir hul twee oorwinnings en twee tweede plekke vanjaar agter hul spanmaats Duncan Vos en Hennie ter Stege (in die Lesotho Sun 400 in Augustus) en Grobler en Leeke in verlede maand se Mafikeng 500.
Die Klas T-Nissan voertuie se grootste teenstanders sal dus weer die fabrieksingeskrewe Ford Ranger van die oud-kampioene Neil Woolridge en Kenny Skjoldhammer wees, wat 157 punte vir die seisoen tot nou bymekaar gemaak het.
Nog ’n span met ’n kans om die algehele kampioenskap op te raap sou een van die Klas T-Hardbody-bakkies in die laaste twee byeenkomste agterweë bly, is Alfie Cox en Ralph Pitchford, wat huidiglik derde algeheel in hul Klas D-Arnold Chatz Cars-Hardbody is nadat hulle 165 punte opgestapel het.
Cox, ’n veelvuldige veldren- en enduro-motorfietskampioen en Suid-Afrikaanse sterjaer van die Dakar-veldtydren, het Klas D vanjaar oorheers en sy klas in die laaste vyf byeenkomste agtereenvolgens gewen en sodoende ’n handige gaping van 36 punte voor sy naaste teenstanders, Mark Cronjé en Chris Birkin in die fabrieksingeskrewe Castrol-Toyota Hilux, opgebou.
Die amptelike Nissan Motorsport-inskrywings sal weer gesteun word deur ’n string private Nissan-jaers wie se bestendige vertoning regdeur die seisoen Nissan gehelp het om ’n onoorwinbare 882 punte in die gesogte vervaardigerskampioenskap in te samel. Toyota is tweede met 587 punte tot nou, en Ford derde met 279 punte.
Die gewese Klas D-kampioene Hein Grobler en Gerhard Prinsloo is aan die voorpunt van die Gearbox Services Racing-renspan se drie goue Nissan Hardbody-bakkies, wat hul merk in die mededingende Klas D gemaak het. Grobler-hulle en hul spanmaats JP Augustin / Johan Doubell en Johan en Riaan Gerber sal die Nissan-vlag teen die res van die Klas D-renveld hoog probeer hou.
Arnold du Plessis en sy navigator, George Baker, jaag in hul BB Auto-gesteunde Nissan Hardbody ook in Klas D met hul spanmaats Jurie en André du Plessis wat in Klas E in ’n viersilinder-Hardbody deelneem.