Oorlogspraatjies in die Spesiale Voertuig-kamp voor die Sun City 400, die sesde ronde van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, pla Atang Makgekgenene en Mike Stangl niks. Makgekgenene en Stangl (Total/SAM Racing-Jimco) is die enigste Spesiale Voertuig-span wat twee renne dié seisoen kon wen en hul ander drie pogings tot oorwinnings is deur frustrerende tegniese probleme in die wiele gery.
Die paar het die openingsronde van die seisoen, die Nissan-Handelaar 400, gewen, maar kon net 600 m van die Nissan-Sugarbelt 400 aflê voor die elektriese beheerstelsel die gees gegee het. Hulle was die voorlopers tydens die Toyota 1000 toe ‘n tap-as van die ratkas geskeur het, maar het daarvoor opgemaak deur die Oven Fresh Biscuits 500 te wen. Hul hoop om nóg ‘n oorwinning tydens die Queen Motor Spares-Tarka 400 in te palm, het getaan toe ‘n klepveer gebreek het terwyl hulle in die tweede plek gelê het.
“Wat my die meeste frustreer, is dat baie geld spandeer word om die beste onderdele aan te koop en dan hou dit nie,” het Makgekgenene gesê. “As dit ‘n geval van swak voorbereiding was, kan ek dit nog aanvaar, maar dat splinternuwe onderdele breek, is onaanvaarbaar.”
“Ons doel is om as die Klas A-kampioene gekroon te word en om dit te bereik, moet ons die Sun City 400 wen en hoop dat die kampioenskapvoorlopers, Gerald Mundell en Billy Bond in die Prolong-BAT wat 46 punte voor ons is, so min punte as moontlik bymekaarmaak,” het Makgekgenene bygevoeg. “Ons sal ook vir die Tarka 400-wenners, Gary Bertholdt en Brandon Harcus in die BAT versigtig moet wees, want hulle is net vyf punte agter ons.”
Daar wag ‘n strawwwe taak op die besigheidsman van Botswana by die Sun City 400 met soveel as 12 Klas A-spanne wat sal probeer om hom te verhoed om ‘n driekuns aan te teken.
Die Sun City 400 begin op Vrydag, 26 September, om 13:00 met ‘n 40 km-voorren. Die hoofren, wat uit drie sirkelroetes van 130 km elk betaan, begin op Saterdag, 27 September, om 08:00 en die eerste voertuig word om 13:00 by die Sun City Sportkomplekds terugverwag.