Die meeste van die kategorie- en klaskampioenskappe van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word en in beide die Produksie- en Spesiale Voertuigkampioenskappe ‘n naeltbytstryd was, sal eers tydens die Carnival City Casino 400 op 14 en 15 November bepaal word.
In die Produksievoertuigkategorie het die Trots Suid-Afrikaanse Nissan-span, Hannes Grobler en Richard Leeke die algehele asook die Klas T-kampioenskappe ingepalm toe hulle die onlangse Toyota-Handelaars 400 in die Lydenburg-omgewing gewen het. Dit was Nissan se 14de agtereenvolgende oorwinning en Grobler en Leeke se negende sege van tien renne wat hulle begin het.
Die veldrennuweling, Mark Cronje saam met die veteraan-navigator, Chris Birkin, het die Klas E-kampioenskap opgeraap toe hulle vierde algeheel en eerste in Klas E met hul Castrol-Toyota Hilux 2700i in Mpumalanga klaargemaak het en het in die proses ook in die tweede plek in die Produksievoertuigkampioenskap geëindig.
Hul spanmaats, Kassie Coetzee en Ockie Fourie (Castrol-Toyota Hilux KZ-TE) het hulself van die derde plek in die Produksievoertuigkampioenskap verseker en is tweede in die Klas E-kampioenskap vir viersilinder-voertuie met beperkte veranderings.
Hein Grobler en Gerhard Prinsloo (GBS Racing-Nissan Hardbody) is vierde in die algehele kampioenskap en is tans die voorlopers in Klas D, ‘n klaskampioenskap wat gedurende die seisoen strawwwe mededinging opgelewer het. Die Carnival City Casino 400 sal egter die bepalende ren in die Klas D-kampioenskap vir sessilinder-voertuie met beperkte modifikasies wees met die pa- en seun-span, Johan en Marthinus van der Merwe in die Chavani-Colt Rodeo wat vyfde in die algehele kampioenskap en tweede in die Klas D-kampioenskap is en Deon Schoeman en Jeremy Fall in die Topcar/Ferodo-Nissan Hardbody wat almal ‘n kans staan om dié klaskampioenskap te wen.
Die heersende Produksievoertuigkampioene, Duncan Vos en Mike Griffiths is sesde in die algehele kampioenskap en derde in Klas T, ‘n enkele punt agter Scott Abraham – wat die ren as gevolg van werksverpligtinge in Duitsland sal mis – en Richard Carolin (Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep). ‘n Goeie resultaat in die finale ren van die seisoen sal sorg dat hulle ‘n paar plekke in die algehele kampioenskap kan klim, maar hul posisie is nie ‘n uitgemaakte saak in die Klas T-kampioenskap nie en drie spanne sal poog om die tweede plek voor hul neuse weg te raap. Apie Reyneke en Robin Houghton (Castrol-Toyota Land Cruiser) wat sewende is; Giniel de Villiers en Francois Jordaan (Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody) wat 10de is en die elfde geplaasde, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer (Ford Racing Ranger) beskik almal oor die vermoë om die tweede plek in die Klas T-kampioenskap los te jaag en dit sal ‘n uiters interessante stryd afgee.
Produksievoertuigkampioenskappunte na die Toyota-Handelaar 400:
Algeheel: 1. Hannes Grobler / Richard Leeke, Nissan, 234 2. Mark Cronje / Chris Birkin, Toyota, 199 3. Kassie Coetzee / Ockie Fourie, Toyota, 157 4. Hein Grobler / Gerhard Prinsloo, Nissan, 126 5. Johan vd Merwe / Marthinus vd Merwe, Colt, 113 6. Duncan Vos / Mike Griffiths, Nissan, 112 7. Apie Reyneke / Robin Houghton, Toyota, 106 8. Manfred Schröder / Jack Peckham, Ford, 102 9. Scott Abraham / Richard Carolin, Jeep, 99 10. Giniel de Villiers / Francois Jordaan, Nissan, 95
Die Spesiale Voertuigkampioenskap asook die Klas A-, B- en S-klaskampioenskappe is steeds wawydoop en sal eers by die Carnival City Casino 400 bepaal word.
Die voormalige Klas B-kampioen, Giel Nel, is ‘n toonbeeld van bestendigheid in sy enkel-sitplek Luc Africa-Truggy en is reeds die hele seisoen in ‘n stryd vir die voorloperposisie in die Spesiale Voertuigkampioenskap met die Klas A-kampioenskapvoorlopers, Gerald Mundell en Billy Bond in die Prolong-BAT, gewikkel. Slegs 27 punte skei dié twee jaers in die Jaerskampioenskap terwyl Bond met vyf punte die voorloper in die Navigatorskampioenskap is – Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE) is tweede.
Clint Gibson en Mike Brown is derde in die algehele kampioenskap te danke aan drie agtereenvolgende Klas B-oorwinnings in die Praesidium Financial Services-BAT en ‘n tweede algehele posisie na die Toyota-Handelaars 400 in hul splinternuwe Klas A-BAT. Die span van KwaZulu-Natal het voorgeloop in die ren totdat hulle verkeerd gery het met die eindstreep so te sê in sig en hulle moes die oorwinning aan Mark Corbett en Juan Möhr in die Century Property Developments-BAT oorhandig.
Die heersende Klas B-kampioen en KwaZulu-Natal-boer, Marcus Taylor (Rollerbak Racing-JRE) is vierde op die algehele punteleer en tweede in Klas B terwyl sy navigator, Marc de Chalain alreeds van die Klas B-navigatorskampioenskap verseker is.
Die wenners van die Queen Motor Spares-Tarka 400 en Sun City 400, Gary Bertholdt en Brandon Harcus (Adrenalise Corporate Entertainment-BAT) het die punteleer vinnig geklim en is onderskeidelik vyfde en derde in die Jaers- en Navigatorskampioenskappe. Hulle is in staat om die Carnival City 400 algeheel te wen en dit sal hulle van die opvolgposisie in die Spesiale Voertuigkampioenskap asook die Klas A-kampioenskap verseker.
Nic Goslar en Warren Bowie (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Raceco) is sesde algeheel en saam met Mohammed Noor en Mohammed Moultsen (Supa Veg-Raceco) die voorlopers in Klas S. Beide dié spanne het nie vir die Toyota-Handelaars 400 ingeskryf nie en dié kampioenskapstryd sal eers tydens die Carnival City Casino 400 besleg word.
Andrew Birkin (WPP Wingfoot), John Moore/Fred Werner (Shell/Connix-Chenowth) en Terence Marsh/Trevor Ahier (Nashua Mobile-Jimco) is onderskeidelik agste, negende en tiende.
Spesiale Voertuigkampioenskappunte na Toyota-Handelaar 400:
Algeheel – Jaers: 1. Giel Nel, Truggy, 157 2. Gerald Mundell, BAT, 130 3. Clint Gibson, BAT, 128 4. Marcus Taylor, JRE, 125 5. Gary Bertholdt, BAT, 122
Algeheel – Navigators: 1. Billy Bond, BAT, 130 2. Marc de Chalain, JRE, 125 3. Brandon Harcus, BAT, 122 4. Mike Brown, BAT, 94 5. Mohammed Moultsen, Raceco, 85