Die 2004-SA Veldrenvoertuigkampioenskap begin met die Nissan-Handelaar 400 wat deur die Cape Peninsula Motorcycle and Car Club (CPMCC) georganiseer word en wat op 19 en 20 Maart in die Darling-omgewing in die Wes-Kaap plaasvind.
Deelnemers wat die lang pad na die Wes-Kaap aanpak, kan ‘n roete verwag wat heelwat van laasjaar se roete verskil deurdat die uiterse sanderige gedeeltes wat die ondergang van die Spesiale Voertuigspanne was, met meer toeganklike terreine vervang is.
“Die hersiene 172 km-roete wat deelnemers twee keer sal moet voltooi, sal uit klipperige gedeeltes, digte bosse, wingerde, sanderige dele, bergpaadjies en ‘n droë soutpan insluit met minder lang, reguit dele wat die ratkaste en koppelaars sal spaar,” het CPMCC se Roetemeester, Robert Marle, gesê. “Ten spyte van die veranderings sal die hersiene roete ‘n verskeidenheid van terrein insluit wat ‘n goeie toets vir die spanne en hul voertuie behoort te wees.”
Daar word verwag dat ten minste 60 spanne vir die Nissan-Handelaar 400 in die Spesiale en Produksievoertuigkategorieë sal inskryf en die Darling-Klub sal ‘n bynes van aktiwiteite wees wanneer dokumentasie en voertuigondersoeke om 08h30 begin.
Die 43 km-voorren wat die wegspringvolgorde vir die hoofren sal bepaal, begin Vrydag om 13h00 met die hoofren wat Saterdag om 08h00 in aanvang neem. Die wenvoertuig word teen 15h00 by die einde verwag.
“Die roete is uiters kompak en toeskouers sal die geleentheid gebied word om van die vinnigste voertuie vanaf ses aangewese toeskouerspunte in die veld in aksie te sien,” het Marle gesê. “Die plaaslike gemeenskap sal weer eens kos en verversings by sekere toeskouerpunte aanbied.”