Die 60-jarige Ernest Corbett beskryf sy deelname aan die Absa-Veldrenkampioenskap as “‘n luide aanslag op die skanse van die lewe.“
Corbett Sr., die pa van die Spesiale Voertuigkampioenskapdeelnemer, Mark, het vir jare saam met Mark en sy vriende veldrenmotorfietse gery en het in 2003 besluit om aan veldrenne deel te neem voordat hy te oud daarvoor is.
Die joviale eiendomsontwikkelaar het ‘n Klas B-BAT aangeskaf waarmee hy onder die Century Property Developments-naam deelneem en saam met sy skoonseun en navigator, Warwick Goosen, het hy al sukses behaal.
“Vir my gaan veldrenne meer daaroor om die uitdagings van die ren te geniet en dit te oorkom as om te wen,” het Ernest Corbett gesê. “Op my ouderdom is oorwinning nie alles nie en dit gaan vir my daaroor om die buitelewe saam met my familie te geniet.”
“Ons spandeer baie tyd as ‘n familie saam en het al in die sub-Sahara-gedeeltes van Afrika getoer en nou skryf ons saam vir die renne in die Absa-Veldrenkampioenskap in.”
Corbett Sr., wat reken dat veldrenne ‘n groter gelykmaker as gholf is, doen baie moeite en spandeer baie van sy tyd daaraan om entrepreneurs te help om beter besigheid te doen en ook aan opvoedkundige programme vir die voorheen agtergeblewendes in die Limpopo-Provinsie terwyl hy ook as Voorsitter van die Century Group ’n ogie oor sake hou.
Die Century Property Developments-span sal twee voertuie – een vir Mark Corbett en Juan Möhr en een vir Ernest Corbett en Warwick Goosen – vir die Mafikeng 500 inskryf. Die ren begin Vrydag, 24 September om 13h00 met ’n 35 km-voorren terwyl die hoofren Saterdag, 25 September om 08h00 begin. Die eerste voertuig word teen 14h00 by die einde terug verwag.