Daar sal ‘n paar veranderings aan die Carnival City Casino 400 wat op 14 en 15 November plaasvind en die laaste ronde van vanjaar se SA Veldrenvoertuigkampioenskap is wat deur Absa aangebied word, aangebring word met die oog daarop om dié byeenkoms, wat die hoogtepunt van die 2002 was, te verbeter.
Met ‘n paar kampioenskappe in beide die Produksie- as die Spesiale Voertuigkategorieë wat steeds besleg moet word, sal dié Oos-Randse byeenkoms met hope interessanthede vorendag kom. Die organiseerder, Koepelklub, het egter ‘n paar veranderings aangebring wat die deelnemers sowel as die toeskouers sal pas.
Om mee te begin, is die toeskouergedeelte binne die Carnival City-kompleks verbeter. Die verbouings sluit ‘n breër baan in asook bykomende hoëspoed-walle wat die aksie vir motorsportgeesdriftiges net verder behoort te verhoog.
“Deur dié gedeelte van die roete wat deur die Carnival City Casino-gronde gaan, te verander, behoort dit opwindend te wees,” het die voorsitter van die Koepelklub, Willie Prinsloo, gesê. “Toeskouers sal die voertuie drie keer vanuit een plek kan sien en met die voorren wat nou net binne die kompleks plaasvind, sal hulle die Produksie- én Spesiale Voertuie op Vrydag en Saterdag sien. Die motorfietse en vierwielmotorfietse sal Saterdag in aksie wees.”
Prinsloo het bygelas dat vanjaar se roete drie keer oor ‘n sirkelroete van 146 km sal gaan en dat dit rowwe terrein sal insluit wat nog nie in die verlede gebruik is nie – die organiseerders hoop dat dit voor die byeenkoms sal reën om te keer dat die stof te erg is.
“Vir daardie motorsportgeesdriftiges wat veldrenaksie met ander aktiwiteite wil kombineer, het Carnival City Casino net die antwoord,” het Carnival City Casino se bestuurder, Rod Walker, gesê. “Ons beskik oor die vermoë om ‘n verskeidenheid en verskillende pretondervindings aan te bied en behalwe vir die aktiwiteite vir volwassenes, tieners en kinders in die kasinokompleks, is daar ook ‘n biertent en kitskosstalletjies.
“Laas jaar se byeenkoms was ‘n reuse-sukses, maar ons wil graag dié jaar nóg verbeter en die laaste ren van die kampioenskap een maak wat die deelnemers en toeskouers sal onthou.”
Die voorren begin op Vrydag, 14 November om 12:00 en die hoofren op Saterdag, 15 November om 08:00.