Deelnemers wat vanjaar vir die Absa Veldrenkampioenskap inskryf, kan heelparty veranderings aan die formaat van die byeenkomste, waarvan die belangrikste die afstande van die voorrenne en ’n verpligte 15 minute-wagtydperk by die aangewese dienspunt, verwag.
Die minimum-afstand vir voorrenne is tot 40 km verleng en organiseerders is versoek om dié roete moeiliker te maak in ’n poging om die gaping tussen die deelnemers te vergroot.
“Ons wil nie graag weer die wegspringtussenposes van twee minute of die sogenaamde stofgapingstelsel instel nie, want dit beteken dat die toeskouers, die spanne en die media nooit weet wie die voorlopers is nie terwyl die huidige formaat waar deelnemers volgens die tye wat hulle tydens die voorren opgestel het, wegspring, beteken dat die spanne se posisie op die pad hul ware renposisies is,” het die President van MSA se Veldrenvoertuigkommissie, Piet Swanepoel, gesê. “Laasjaar was die gapings tussen die deelnemers te klein as gevolg van die korter voorrenne en deur die afstande te vergroot, hoop ons om dié probleem op te los.”
Die verpligte stop by die aangewese dienspunt is daargestel om die deelnemers van die geleentheid te voorsien om, alhoewel dit kort is, te ontspan, die batterye van die kameras en bandopnemers aan boord te vervang en die media toe te laat om onderhoude onder beheerde omstandighede te voer.
“Die MSA Veldrenvoertuigkommissie het in ses van die nuutste digitale klokke belê om te verseker dat die tye akkuraat bygehou word,” het Swanepoel bygevoeg.