Die SA Marque Club Association (SAMCA) het ‘n verbysterende verskeidenheid van sommige van die beste klassieke motors ter wêreld, om nie eens te praat van Suid-Afrika nie, bymekaar gekry vir die Bosal Concours d’Elegance, Concours d’Etat en Tops Only-kompetisie, wat deel uitmaak van die Cars in Action-motorfees op AA Kyalami op 17 en 18 Julie.
Die drie kategorieë het altesame 70 inskrywings gelok, wat 21 vervaardigers insluit met die Bosal Concours d’Etat en Bosal Tops Only-inskrywings wat in die klubarea bokant die kuipekompleks te sien sal wees, terwyl die Concours d’Elegance-deelnemers agter die kuipekompleks uitgestal sal word.
Die Bosal Concours d’Etat sal ‘n versameling van tien voertuie van onskatbare waarde vertoon wat deur tien SAMCA-klubs ingeskryf is, met spesialiste wat elke aspek van die voertuie sal beoordeel om te verseker hulle is in dieselfde, indien nie ‘n beter, toestand as toe hulle eers gebou is nie. So streng is die beoordeling dat die beoordelaars wit katoenhandskoene sal dra om die bakwerk, binneruim, enjin en dies meer te ondersoek. Die geringste stoffie sal daartoe lei dat punte afgetrek word.
Die Alfa Romeo-klub van Suid-Afrika het ‘n 1960 Alfa Romeo Spider Veloce Sprint ingeskryf, wat Peter en Dawn Manelis twee jaar geneem het om te restoureer en wat sedertdien verskeie toekennings ingepalm het, terwyl Peter Ling se 1959 Volvo 544 Sport 11 jaar geneem het om te restoureer en ‘n sterk aanspraakmaker is op vanjaar se titel.
Gero Eckermann se 1972 Jaguar E-Type is een van die beste voorbeelde van dié vervaardiger se produkte, wat meer as ‘n jaar geneem het om te restoureer en die “Beste motor op skou”-toekenning gewen het by die Genl. Smuts Stigting Eeufees-skou in 2002.
Ander uitstekende voorbeelde wat tot perfeksie gerestoureer is, sluit in ‘n 1964 Morris Cooper S van dr. Ryno Venter, ‘n 1961 Morris Minor Pick-up en ‘n 1965 MGB Roadster, wat vir jare deur Glenn Wort gebruik is as ‘n daaglikse gebruiksmotor.
Om die Bosal Tops Only-kompetisie te beoordeel is net so ‘n streng proses as in die Bosal Concours d’Elegance, behalwe dat die voertuie, wat van tyd tot tyd in daaglikse gebruik is, net op die uiterlike voorkoms beoordeel word. Motorliefhebbers sal sonder twyfel met leepoë kyk na sommige van die waardevolle voertuie wat vertoon sal word.
Die Micro-klub het ‘n opwindende uitstalling van voertuie, insluitend ‘n 1958 Auto Bianchina Convertible, ‘n 1956 BMW Isetta, ‘n 1957 Goggomobiel en ‘n 1957 Messerschmidt “Bubble Top”, terwyl die Porsches, Triumphs en ‘n paar rare Rovers verder fleur aan die uitstallings sal verskaf. Die Cobra-klub het twee motors ingeskryf, wat beter herbou is as die oorspronklike Cobra.
Die Bosal Concours d’Elegance is ‘n pret-geleentheid waar voertuie wat uitstekend gerestoureer is, saam met hul eienaars geparadeer word. Laasgenoemde trek boonop in periode-uitrustings aan om by hul voertuie te pas. Die Bosal Concours d’Elegance vind Sondag, 18 Julie van 11h45 tot 13h00 plaas in die kuipelaan.
Die inskrywing sluit ‘n baie skaars 1938 MG VA Tickford in, twee AC Cobra-renmotors, ‘n 1966 Auto Bianchina en ‘n paar wonderlike Porsches en vele meer.
Die Cars in Action-motorfees is ‘n naweek vir die hele gesin met talle ander attraksies soos die Rotax RM-1-kampioenskapsren by die Kyalami-renstelbaan, historiesemotorrenne vir historiese enkelsitplekmotors, Volkspares Fine Cars, Lotus-uitdaging, DK Porsche-uitdaging en Volkspares HRCR-toermotors op Saterdag. Sondag kom die Vodacom 200 sportmotorren, die Rotax RM-1-kampioenskapsren, die CRRASA Classic-stiptheidsren en die SAHRA-sneltrajektydren aan die beurt, ry-en-bestuur geleenthede op die BMW-glypan en ‘n 4×4-baan, ‘n Playstation-arkade, produkuitstallings en ‘n speelplek vir die kinders.
‘n Toegangskaartjie vir een dag kos R40 per persoon, terwyl ‘n kaartjie vir albei dae R70 per persoon sal kos.