Die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam het tot dusver ‘n seisoen vol probleme beleef en as dié span se mede-stigter, André Botha, se ultimatum aan hulle die nodige uitwerking tydens die Sun City 400 gaan hê, kan hulle met die algehele oorwinning in die Spesiale Voertuigkategorie en vier klasoorwinnings wegloop.
Die Superteam het een algehele oorwinning en vier klasoorwinnings tydens vyf renne van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, bymekaargemaak, maar dit is nie goed genoeg vir Botha nie.
“Die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam is ‘n professionele span met al die nodige hulpbronne, mededingende voertuie en uitstekende jaers, maar om een of ander rede het ons nog net nie die sukses behaal waarna ons eintlik mik nie,” het Botha gesê. “Vier enjins van John Weir-Smith en Geoff Minnitt se Superteam-Jimco wat gefaal het en gedurige stuurprobleme met Gareth Wark se Superteam-Mighty Mag, laat die kenners kopkrap en hopelik kan hulle oplossings hiervoor vóór die Sun City 400 kry.”
“John is ‘n jaer met ongelooflike vermoëns. Dit het duidelik geblyk toe hy tydens die Toyota 1000 van agter gekom en gewen het, maar ek dink hy moet ‘n bietjie terughou en nie die tipe fout maak wat hy tydens die Tarka 400 gemaak het toe hy en Geoff op ‘n ongeskeduleerde drie verdieping-hoë-, 75 m lang vlug gegaan het nadat hy hom misreken het nie,” het Botha bygevoeg.
Botha en sy besigheidsvennoot, Beans Heydenrych, het hul veldrendebuut dié seisoen in die Superteam-Chev gemaak.
“Dit was ‘n stywe leerkurwe vir my en Beans, maar ons albei het die voertuig leer ken en weet nou wat dié uiters strawwe motorsportsoort van ons verwag. Ons was verheug nadat ons ons eerste ren, die Tarka 400, kon voltooi en ook ons eerste Klas F-oorwinning kon behaal,” het Botha gesê.
Die Sun City 400 begin op Vrydag, 26 September, om 13:00 met ‘n 40 km-voorren. Die hoofren, wat uit drie sirkelroetes van 130 km elk betaan, begin op Saterdag, 27 September, om 08:00 en die eerste voertuig word om 13:00 by die Sun City Sportkomplekds terugverwag.