SA VELDRENKAMPIOENSKAP… AANGEBIED DEUR ABSA

Die stryd in die Spesiale Voertuigkategorie vir die Toyota-Handelaars 400, die sewende ronde van die SA Veldrenvoertuigkampioenskap wat deur Absa aangebied word en op 24 en 25 Oktober in die Lydenburg-omgewing plaasvind, sal nog ‘n tikkie interessanter wees.

In Klas A sal ‘n nuweling, Clint Gibson wat saam met sy navigator, Mike Brown, Klas B reeds na die afgelope drie renne gewen het, sy verskyning maak. Gibson het die Audi V8-aangedrewe BAT wat deur die Belg, Gregoire de Mevius tydens die onlangse Sun City 400 bestuur is, aangeskaf en sal weer onder die Preaesidium Financial Services-vlag jaag. Gibson en Brown se bestendigheid en stewige pas in die Klas B-BAT behoort hulle in ‘n goeie posisie te plaas en ‘n algehele oorwinning is nie buite die kwessie nie.

Die veterane, Henry Kristein en Renier Jooste, het vanjaar aan verskeie streeksrenne deelgeneem, maar kon nie van die nasionale kampioenskap wegbly nie en het die geleentheid aangegryp om Gibson se Klas B-BAT te koop. Kirstein en Jooste sal hulle debuut in die Atlas Copco-BAT tydens die Toyota-Handelaars 400 maak en ook aan die Carnival City Casino 400 deelneem.

BAT-voertuie het die dominerende krag in die Spesiale Voertuigkategorie geword en gee die ingevoerde Amerikaners opdraande. Volgens hul huidige verrigting is die Queen Motor Spares-Tarka 400- en Sun City 400-wenners, Gary Bertholdt en Brandon Harcus beslis die span om te klop, maar hulle sal al die krane moet oopdraai om voor die res van die Klas A-brigade te bly.

Die enjin van die Nissan-Handelaars 400- en die Oven Fresh Biscuits 500-wenners, Atang Makgekgenene en ‘n navigator wat nog aangekondig moet word, se Total/SAM Racing-Jimco het die afgelope twee renne die gees gegee en hulle is angstig om weer in die kring van die wennners te wees. Só ook is die Nissan-Sugarbelt 400-wenners en voorlopers in die Klas A-kampioenskap, Gerald Mundell en Billy Bond (Prolong-BAT) asook die Toyota 1000-Woestynren-wenners, John Weir-Smith en Geoff Minnitt in die O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Jimco.

Die voormalige Spesiale Voertuigkampioen, Mark Corbett en Jason Bruwer het al die vinnigste tye in die voorrenne opgestel en voorgeloop in renne, maar is deur veringstelselprobleme op die Century Property Developments-BAT gekniehalter. Die man- en vrou-span, Gerhard en Kobie du Plessis is in dieselfde situasie met hul Mobil-Jimco, maar hulle het ratkas- en enjinprobleme tydens die laaste drie renne ondervind.

Dit was ‘n ontwikkelingsjaar vir die Nashua Mobile Racing-spanne van Terence Marsh en Trevor Ahier (Jimco) en Greg Daus en Archie Rutherford (Chenowth). Beide voertuie is met kragtige Mitsubishi V6-enjins toegerus terwyl die Jimco ook oor ‘n drukaanjaer beskik en die Chenowth oor dubbele turbo’s. Marsh en Ahier het van die 48ste plek gekom om derde in die Spesiale Voertuigkategorie na die Sun City 400 klaar te maak terwyl Daus en Rutherford heel laaste begin het en tot die tweede plek beweeg het voordat hulle as gevolg van ‘n gebreekte linkervoorste arm moes onttrek.

Hoe ook al daarna gekyk word, sal dit die BAT teen die Amerikaanse ingevoerde voertuie wees terwyl elkeen in Klas A die Toyota-Handelaars 400 sal wil wen – soos hulle jare gelede reggekry het – en daardeur die fabriekspanne in die Produksievoertuigkategorie ‘n ding of twee wys.

Dit is ‘n naelbytstryd in Klas B met die voorloper in die Spesiale Voertuigkampioenskap, Giel Nel (Luk Africa-Truggy), Marcus Taylor en Marc de Chalain (Rollerbak Racing-JRE), Clint Gibson en Mike Brown (Praesisium Financial Services-BAT) en Andrew Birkin (Wingfoot) wat die hoofaanspraakmakers is.

Met Gibson en Brown nou uit die prentjie, sal dit ‘n gelykopstryd vir die algehele en klaskampioenskaptitels tussen Nel en Taylor/De Chalain wees met Birkin, Kirstein/Jooste en die pa en seun, Rob en Gareth Wark (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Superteam-Mighty Mag) wat die buiteperde is.

In Klas S is dit ‘n wipplankstryd tussen Nick Goslar en Warren Bowie (O’Hagan’s/Kopanong Hotel Supterteam-Raceco) en Mohammed Noor en Mohammed Moultsen (Supa Veg-Raceco) vir die kampioenskap. Hulle is die gelyke voorlopers in die Klas S-kampioenskap en ‘n goeie resultaat tydens die Toyota-Handelaars 400 is kritiek vir beide spanne.

Die Toyota-Handelaars 400 begin op Vrydag, 24 Oktober om 13:00 met ‘n 36 km-voorren om die wegspringvolgorde vir Saterdag se hoofren te bepaal. Die voorren begin en eindig by die Badfontein Boeresaal by die Kwena Dam.

Die simboliese begin van die hoofren sal op Saterdag, 25 Oktober om 07:30 van Lydenburg Toyota op die hoek van Voortrekkerstraat en Langestraat wees en die spanne sal dan na die Lydenburg-lughawe beweeg waar die ren om 08:00 behoorlik sal begin.

Die spanne sal dan in die rigting van die Kwena-kom beweeg vir ‘n 120 km-seksie wat hulle net een keer sal ry waarna hulle ‘n sirkelroete van 120 km twee keer moet voltooi voordat hulle by die Badfontein Boeresaal sal eindig.

Die eerste voertuig word teen 13:30 by die einde verwag.