Die veteraan-veldrenjaer, Stratford Voogt, sal ‘n enkelverskyning in die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep tydens die Toyota-Handelaars 400, die voorlaaste ren van die SA Veldrenkampioenskap wat deur Absa aangebied word, maak.
Die Sundra-gebaseerde Voogt het ‘n lang verbintenis met die rooi monster en behalwe dat hy die voertuig reeds jare voorberei, het hy die jaersitplek met Arthur Abraham, Sarel van der Merwe en Paulo Piazza-Musso gedeel terwyl Scott Abraham in die navigatorstoel was.
Abraham Junior is nou in Duitsland waar hy op ‘n kontrakbasis vir New Dimension X-Raid BMW werk wat drie BMW X5’e in die UAE Woestynuitdaging en die 2004 Dakar sal inskryf en sal nie aan die laaste twee rondes van die kampioenskap kan deelneem nie.
“Ek is verheug om na ‘n lang ruk weer agter die stuur van die Atlas Copco/Chicago Pneumatic-Jeep te kan wees,” het Voogt gesê. “Dit was nog altyd ‘n uitdaging om die Jeep te bestuur, maar ek is goed voorbereid vir dié takie wat voorlê.”
“My doel is om te verseker dat die Jeep in ‘n goeie posisie klaarmaak sodat ons Richard Carolin se tweede plek in die Klas T-navigatorskampioenskap kan behou.”
Die roete vir die komende Toyota-Handelaars 400 wat op 24 en 25 Oktober plaasvind, behoort die Jeep goed te pas en daar kan verwag word dat Voogt en Carolin vir nóg ‘n Klas T-podiumposisie sal mik.
Die Toyota-Handelaars 400 begin om 13:00 op Vrydag, 24 Oktober, met ‘n 40 km-voorren in die Kwena Dam-gebied naby Lydenburg. Die hoofren begin Saterdag om 08:00.