Die voormalige Produksievoertuigkampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer, het uiteindelik Nissan se oorheersing van die Absa-Veldrenkampioenskap gebreek deur die uiters mededingende Nissan-Sugarbelt 400 Saterdag in KwaZulu-Natal te wen.
Die Ford Racing-span het die derde vinnigste tyd ná die Trots Suid-Afrikaanse Nissan Hardbody-spanne van Alfie Cox en Ralph Pitchford en die huidige Produksievoertuigjaerskampioen, Hannes Grobler en Francois Jordaan, in Vrydag se 31 km-voorren opgestel.
Cox en Pitchford, wat hul debuut in Giniel de Villiers se voormalige Klas T-bakkie gemaak het, was die voorlopers na die eerste 90 km van die ren voordat Grobler en Jordaan by hulle verby geglip het en hulle het later tot die derde plek terugval toe hulle die Nissan by ’n dekontrolepunt nie weer aan die gang kon kry nie as gevolg van ’n foutiewe battery.
Woolridge en Skjöldhammer het aangehou om druk op die voorste Nissan-span te plaas en het uiteindelik die voortou geneem toe Grobler en Jordaan moes stop om ’n pap band te ruil. Die Nissan-span het alles uitgehaal om die Ford weer in te haal en het die 17 sekondes wat hulle verloor het deur die pap band te ruil, opgemaak, maar hulle kon die voorlopers nie in die stof verbygaan nie en moes met die tweede plek tevrede wees.
Cox en Pitchford het onttrek toe die agterste dryfas gebreek het en die ratkas se verkoelerpomp beskadig het.
Die Ford Racing-span het selfs meer rede gehad om te seëvier toe Manfred Schröder en Alec Harris hul Ford Ranger derde algeheel en eerste in Klas D tuisgebring het – meer as vyf minute voor die pa en seun, Cliff en Louis Weichelt in die Bosal/N1 4×4-Toyota V6.
Die Klas E-oorwinning het aan die huidige Klas E-kampioene, Hugo en sy pa, Jaap de Bruyn, behoort. Die talentvolle jongeling van Vryburg het nie ‘n wiel in die privaat-ingeskrewe Toyota Hilux 2,7i verkeerd gesit nie en 10 minute voor die 2004-Mylpaalwenners – ‘n toekenning wat aan dié span gemaak word wat al die kampioenskapbyeenkomste voltooi het – in die Klas D-Mastercraft/Ryobi-Mitsubishi Pajero, Henri Zermatten en Bodo Schwegler.
Die Durban-gebaseerde Zane Pearce en Peter Chadwick was sewende algeheel en tweede in Klas E in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i met hul spanmaats, Gavin Cronje en Robin Houghton, agtste algeheel en vierde in Klas D in die Castrol-Toyota Hilux 2,7i.
Mark Cronje en Chris Birkin wat tweede in die 2004-Klas D-kampioenskap was, het op die Klas D-voortou en ‘n podiumposisie aanspraak gemaak, maar ‘n onderonsie met ‘n boom het veroorsaak dat die stuur-vry arm van hul Castrol-Toyota Hilux 2,7i gebreek het en hulle verplig het om te onttrek. Hul spanmaats, Paolo Piazza-Musso en Ockie Fourie was ook goed geplaas, maar moes toeskouers word toe twee vonkpropdrade van hul Klas D-Castrol-Toyota Hilux 2,7i deurgeskaaf het.
Die pa en seun, Dirk Sr. en Dirk Jr. van Reenen van Harrismith, het negende algeheel klaargemaak en was derde in Klas E in die Savannah-Ford Ranger terwyl die broers, Mark en Stuart Moffat in die Bosal/N1 4×4-Land Rover tiende geëindig het en vyfde in Klas D.
Ford Racing se ontwikkelingspan, Baphumze Rubuluza en Khulile Vakalisa, was 11de algeheel en vierde in Klas E in die Ford Ranger.
Die Spesiale Voertuig-kategorie is deur die 2004-Mafikeng 500-wenners, Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau in die Advansoft-BAT, gewen nadat hulle van die begin tot die einde van die ren in die uitgedunde Spesiale Voertuig-veld voorgeloop het.
Die veldren-uithoumotorfietsspesialiste wat nou by veldrenvoertuie betrokke is, John Moore en Graham Machlachlan, het ‘n bestendige pas gehandhaaf om tweede algeheel in die Connix-Chenowth te eindig – net voor die KwaZulu-Natal-span van Clint Gibson en Marcelle Trethewey in die Gibson Plant Hire-BAT.
Bevan Bertholdt en Nick Selamolela het tweede in die Itec-BAT Spec 1 begin en was op ‘n missie om sy broer, Gary, te wen, maar het vroeg reeds in die suikerriet gerol. Hulle het daarin geslaag om die voertuig ter herwin en het met hul aanslag voortgegaan, maar ‘n pap band het hul spoed verder gebreek en hulle moes met ‘n vierde plek algeheel tevrede wees.
Die ster van die Spesiale Voertuig-kategorie, was die voormalige vierwielmotorfietskampioen, Evan Hutchison en Trevor Ormerod in die Klas B-Motorite-BAT. Dié span het die druk van die res van die Klas B-veld deurstaan en het aanvanklik tot so hoog as die tweede plek algeheel opgeskuif, maar was uiteindelik vyfde algeheel en het ‘n welverdiende Klas B-oorwinning ingepalm.
Terence Marsh en Michael Whitehouse het die Nashua Mobile Racing-BAT Spec 1 in die sesde posisie algeheel tuisgebring en was vyfde in Klas A terwyl die huidige Klas B-kampioene, Marcus Taylor en Marc de Chalain in die JRE sewende algeheel en tweede in Klas B was.
David White was agtste algeheel en derde in Klas B in die Truggy wat eers aan Giel Nel behoort het terwyl die broers, Rudi en Pierre van Graan, die laaste span en vierde in Klas B in die Technochair-Zarco, was.
Van die spanne wat nie die ren kon voltooi nie, was John Weir-Smith en Geoff Minnitt wie se ren beëindig is toe die oliekoeler van die Kopanong Hotel Superteam-Jimco gebars het; die Klas S-voorlopers, Richard Schilling en Chris Davies, het twee pap bande met die Plastotech-Aceco opgedoen terwyl hulle net een noodwiel aan boord gehad het en die pa en seun, Rob en Gareth Wark, het toeskouers geword toe die koppelaar van die Superpave-Chenowth opgepak het.
Net 11 van die 21 spanne in die Produksievoertuigafdeling wat die ren begin het, en nege van die 54 Spesiale Voertuig-spanne, kon die einde van die Nissan-Sugarbelt 400 haal – die ren is deur baie beskryf as een van die taaiste byeenkomste in die Absa-Veldrenkampioenskap
Die Nissan-Handelaars 400, die tweede ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, vind op 22 en 23 April in die Darling-omgewing in die Wes-Kaap plaas.